Identiteit

Lees gedicht

Identiteit

 

Tussen elke vier mure
is haar rol vooraf bepaal.

 

Selfs tussen allernaastes
is die sitkamer – beskaafde
jas – ’n hoflike vertrek.
In die eetkamer is sy

 

by die tafel gasvrou en ma
wat – met die nodige weerstand –
opskep en aanbied, opreg
na elkeen se welstand vra.

 

Die woonkamer en kombuis
is elkeen ’n gesellige plek,
van – gewraakte voorskoot –
vrolik bak en brou, die nes

 

van omkrap, koerantlees
en les bes, van tee en beskuit.
Gangaf die kinders se kamers
vir help en gesels, raas – kners –

 

en preek. Hier maak sy ook elke
aand elke rug liefdevol toe.
Dan is daar die kamer van boeke,
diggepak, opgestapel, die veelhanteerde

 

en altyd nuwe vergesigte, die geliefde
rakke vol poorte na nuwe domeine.

 

Maar in die groot slaapkamer stroop
sy af, al die maskers, vertolkings,

 

lae en lae klere en gewade.
Daar bly sý oor, in haar eie vel
voor haar geliefde bloot en broos
voor haar – absolute – self.

 

Sy staan voor die venster. Binne die ruit
bly worstel ’n klein vaal mot wanhopig
gevang in die kantgordyn. Sy duik
deur die glas na ’n streek sonder lyne.

 

Saam met bont vlinders wil sy
roekeloos stoei tussen rose:
op ’n teug wind, in ’n flits son
uiteindelik lustig omkom.

 

Heilna du Plooy

 

Uit: Die stilte opgeskort (Pretoria, 2014).

Submit to FacebookSubmit to Twitter