Afsluitdyk

Lees gedicht

Afsluitdyk

 

Die verhaal van die muur in die see
is geskryf óm groot dik pilare:
ons lees van die droom en die dink
tot die werk volvoer is oor jare en jare.

 

Die noordwind waai ys in ons hare.
’n Stroom motors yl voor ons
verby verbete die toekoms
in, asof wat agter lê hulle jaag.

Vir skuiling koets ons áf teen die trap.
Die kafee is ’n knus skeepskajuit:
spekulaas en flou tee vir die vreemdes
wie se ore van die wind se getier tuit.

Aan die meerkant van die seemuur
lê die koue water laer en dis soet.
In klein golfies swem swart swane:
Dit is húlle gebied en dit is goed.

 

In verhale van mag en van geld het seevaarders
van hier af na warmer waters gaan reis.
Die vlag geplant, moes hulle in ’n sonderlinge land
tuinmaak terwyl vreemde voëls oor hulle krys.

 

Wie sou dié storie kon keer, dié springgety
waarin mense opdrifsels word, weer en weer
in ’n land sonder ’n muur en sonder ’n swaan
swart en sereen op ’n makgemaakte see?

 

Heilna du Plooy

 

Uit: Die stilte opgeskort (Pretoria, 2014). 

Submit to FacebookSubmit to Twitter